Archive

uitgawe 03

die skoonheid van eerlikheid en eenvoud lê daarin dat dit nie regtig veel ruimte laat vir verkeerde interpretasie nie, en dat dit nie sommer die waarnemer kan mislei nie.  in die konsep van ‘wabi sabi’ vind die estetiese- en lewens-ideaal van ‘n bewustelike strewe na die erkenning van die essensie van objekte en aksies ‘n lêplek.  dit vra van die waarnemer ‘n aandagtigheid en bepeinsing in die alledaagse lewe wat, anders as modernisme wat gemik is op die uiting van idees en status in die openbare sfeer, primêr in die private domein uitdrukking vind.  ‘n voorbeel van hierdie tipe benadering is die man wat in sy spaarsamige dakwoonstel ‘n oorspronklike picasso in ‘n kas hou.  af en toe haal hy die werk uit en kyk met aandag daarna, voordat hy dit weer wegpak.

ontdaan van die opdringerige paranoia (het jy gesien en wat dink jy daarvan) van die modernisme is die herfs ook weer hier.  in stilte en sonder fanfare is die blare besig om te verkleur en die wind se vingers word koud.  hou fyn dop.  mag die stilte van herfs sy arms om jou siel vou.

dit is nie ‘n hond nie.  dis ‘n paar swart lyne op ‘n ligte agtergrond.  ook is dit nie noodwendig  ‘mooi’ lyne nie.  tog, is dit niks anders as ‘n hond nie.  hierdie paar strepe van picasso gaan na die hart van wat wabi is:  daar is nie ‘n idealistiese idee oor die ‘mooiheid’ (aldan nie) van die (of enige ander) hond nie.  dit is bloot ‘n soort essensie wat uitgedruk word as ‘n relatiewe verwysing na ‘n gedagte.  in die sin van wabi sabi verwag picasso van ons om ons sensoriese waarneming self uit te brei, anders as wat ‘n foto van ‘n worshond van ons sou verwag het.  ons is vry om te kies:  is hierdie ‘hond’ vir ons mooi of lelik, blaf hy onophoudelik as hy nie aandag kry nie; is sy gehoorsaam;  voel mens die rugstring as hy oor die hond streel…

die essensie van ‘hond’ is al waarmee ons aanvanklik gekonfronteer is, en dit is al wat sal oorbly as ons kan terugkeer na die blote paar lyne van picasso se kunswerk.  maar erken dit nou maar:  jy het al klaar vir die hondjie ‘n naam gegee.

op ‘n asemrowende afgrond in chile staan daar ‘n huis wat die misterieuse waansin van die omliggende landskap weerspieël.  die blokkigheid van die buitekant is kompak en outonoom, en tog is die gevoel aan die binnekant een van gewigloosheid.  dit is ‘n vakansie-huis waar die ruimtes soos die binne-kant van ‘n skulp van die een na die ander oorgaan – die ‘vertrekke’ van die huis lê op verskillende vlakke en is oor drie vloere versprei as ‘n enkele aaneenlopende ruimte.

This slideshow requires JavaScript.

soos die wand van ‘n skulp ‘n vlak is wat holte omsluit, het die argitekte gekies om die buite-muur van die huis ‘n ruimte te maak wat die dieper vertrekke beskerm teen son en wind.  in hierdie ruimte is die sirkulasie van die huis, asook die kombuis en badkamers.  die oorblywende leë vertrekke is dan met wisselende grade van verbinding aan mekaar geskakel, wat die ruimtes optimaal veeldoelig maak.

omdat die bouterrein so afgeleë is, is daar spaarsamig met materiale en arbeid te werk gegaan.  met ‘n klein betonmenger, 4 kruiwaens en ‘n handjie-vol ongeskoolde arbeiders is die hele projek voltooi, en die hout wat gebruik is as gietvorms vir die beton is aan die binnekant van die huis herbruik as deure en panele wat wit geverf is om die interieur af te rond.  terwyl die huis gelyktydig monumental in terme van die vorm en plasing daarvan is, is dit ook intiem huislik, sonder om enige van die negatiewe aspekte van een van die twee uiterstes te versinnebeeld.

klik op die foto om die video te sien

lank voordat die strykstok en die instrument vir die eerste keer ontmoet, laat sy hande die hout reeds sing.  daar is ‘n bepaalde sekerheid in die bewegings van die luitmaker as hy die hout vorm.  dit kom van die gelykmatigheid van bewussyn en ‘n konneksie met die werk wat meer is as bloot die uitvoer van ‘n taak.  “ek vind handewerk ‘n brug tussen die werklikheid en die self”.

nou en dan kry ons almal te doen met een van daardie rare mense wat dit regkry om kreatief te lewe sonder die eksentrieke self-bewustheid waarmee kunstenaars hulself en die samelewing in baie gevalle vermoei.  ek raai dat die feit dat peter pots juis dit regkry, te doen het met die uitleef van ‘n vrywillige eenvoud soos in zen.  hy handhaaf ‘n balans tussen ‘n hele reeks aktiwiteite:  as hy nie besig is met boerdery nie (hy is tans besig om ‘n nuwe appelkultivar te kweek), spandeer hy tyd saam met sy familie, maak tuin, bou huis, versorg die perde en varke, en natuurlik kry die kat ook aandag.

wanneer hy egter die handgereedskap nader trek om ‘n tjello te maak, verskerp die sinne tot ‘n naaldepunt van konsentrasie.  daar word gewerk met ‘n aanvanklike idee van wat hy met ‘n instrument wil bereik, en oor ‘n tydperk van drie maande mag hy nie twyfel aan die uitvoer van daardie idee nie:  “die tjello wat ek besig is om te bou in die video het ek heeltemal self ontwerp. ek het die belangrikste afmetings streng gerespekteer, byvoorbeeld die snaarlengte, totale lengte van die instrument, die lengte en dikte van die hals ensomeer. by die breedte van die instrument het ek probeer om die grens te soek van die breedste moontlik wat nog gemaklik bespeelbaar is. dit het my ‘n klank gegee wat baie ryk is in die lae register – iets wat baie gewild is in tjellos.”

net ‘n uitnemende waarnemer en onvergelykbare vakman sal dit regkry om die wetenskap van klank en die ergonomie van lyf te kan vorm tot ‘n unieke instrument.  die proses en die idee begin reeds by die keuse van die hout.  hy het die rooiden in die alpe gaan haal, waar hy die boom self uitgesoek het.  die esdoringplanke kom uit bosnië en dit gaan haal hy by ‘n handelaar op die grens tussen oostenryk, italie en slovenië.  eg aan sy natuur word slegs handgereedskap ingespan vir die maak van ‘n tjello:  “die hande het baie senuwee-eindpunte en is dus goed verbind met die brein. hulle is daarom buitengewooon geskik om die brein in die teenwoordigheid te hou, veral as hulle ‘n nuwe handwerk moet leer. ek stel ‘n nuwe vorm van meditasie voor wat moeilik dog effektief is.”

my vermoede is dat hierdie klein meditasies al van jongs af in sy grein lê.  en dat dit ‘n leeftyd se werk is om die tegniek te vervolmaak.  bach en brahms help hom intussen om stil te word, as as die stilte kwel, luister hy na karen zoid, spearhead en red hot chilli peppers.  maar die konneksie tussen die brein en die hande bly altyd versterk.

as jy jou op ‘n stadium in die provinsie van parma in italië bevind, word ‘n oomblik stil.  dalk is jy gelukkig genoeg om peter ‘n tjello te hoor stem.  en praat maar afrikaans as jy hom dalk in persoon raakloop.