Archive

inleidings tot uitgawes

iewers tussen aanvaar en vermy is daar ‘n plek van ontmoet wat ‘moontlikheid’ heet.  dit is die oomblik van hoopvolle aarseling en dan die waaghalsigheid om net te spring – die onpeilbare dieptes in.  die vryval in daardie oomblikke van oorweging word in baie gevalle die verwysingspunte waarvan ons later sê:  toe het ek gewéét.  aan die begin van hierdie voortspoedende nuwe jaar haal ek graag aan uit katalekte, van breyten breytenbach:

die probleem is nie

om oppad te wees na nêrens

die ding is wat dóén jy

wanneer jy daar kom

alle paaie lei na moontlikheid, en moontlikheid word nie noodwendig R-O-M-E gespel nie.

dis weer kersfees-tyd, en na ‘n lang stilte het ek weer ‘n paar woorde om te swart-op-wit.  en dit gaan oor ons ervarings van die hede.

dit is orals in die land desember.  maar dit is nie vir almal dieselfde nie.  en kersfees is enigiets van kommersiëel tot geesvervul en selfs spanningvol vir party (moenie so diep in die see swem nie en sit op jou faktor!)

wel, ek hoop jy sien hierdie kersfees die Ster vir wat dit is, dat die Kruis nie jou skouers skaaf nie, en dat jy maat-emmers vol liefde sal kan uitdeel.

die volgende vreemde gesprek (‘n ware verhaal) gebeur hierdie week toe ek vir my daaglikse brood wil betaal.  (om anonimiteit te verseker is handelsname verbloem)

ek:  good morning.  and how are you today?

sy:  do you have a w**lw*rths or a m* sc**l card?

ek:  no.  are you on ‘automatic’?

sy: do want a plastic? (ek kan maar net aanneem dit gaan nie oor ‘n facelift nie)

eers wil ek rooi sien, en toe besef ek:  hierdie situasie is nie so swart en wit as wat ek ek dit gerieflikheidshalwe graag wil maak ten einde my eie siel te versondig met my christelike nasionale agtergrond nie.  êrens hier in die grys het ek my goed gekoop en sy het haar werk gedoen.  waar goeie maniere in die kleurskema ter sprake kom, bly egter ‘n ope vraag.

die tema van hierdie issue is swart en wit – die twee uiterstes met ‘n magdom grys oneindigheid tussen-in waarin die waarheid van die lig en die donker, raai ek, meer dikwels kop uitsteek as wat ons straks vermoed.

ons word konstant gebombardeer deur die vraag:  watter planeet laat ons vir ons kinders na.  dit na aanleiding van die manier waarop ons met die aarde omgaan, dit besoedel, oorpopuleer.  onlangs het ‘n meer prominenete vraag (net my opinie) homself begin voordoen:  watter tipe kinders (en onthou:  hulle word groot) laat ons vir ons planeet agter.  as jy vorder tot by gè korsten se liedjie, kyk ‘n bietjie hoe lyk kinders van minstens ‘n leeftyd terug.  alte dikwels wonder ek oor daardie bumber sticker of die kennisgewing in die agterruit van die 4×4 wat lees:  ‘child of god onboard’.  maar mamma jaag soos die duiwel…

dan nie meer om die hondjie nie (ek het laaskeer belowe) maar om die halsbandjie:  daardie goedjies wat ons help om ons eie breinbrakke in toom te hou.  die leisels wat ons soms ‘n bietjie te veel wil gebruik om in rigtings te stuur waar ons nie hoef te dink oor die ware stand van dit wat ons sien nie.  ook oor die nuwe paaie waarheen ons geneem kan word as ons net die leisels ‘n bietjie wil oorgee en ‘n bietjie wil terugsit en dink, eerder as om toe te verf.

so met die intrapslag sleep ek graag een van die onnutsige geeste van Afrikaans, hennie aucamp, nader vir hierdie uitgawe van iknow:

teerheid is ‘n vlinder  I ‘n papillon d’amour:  vervlietend nes ‘n blomgeur  ontwykend soos toujours

jou hartsog is robyne –  I  ‘n vuur gevang in glas:  dit smeul nes ou ballades  soos kole onder as

jou wreedheid is ‘n springmes  geslepe en presies  ontwerp na jou behoeftes  verseker teen verlies

jou kilheid is ‘n yspriem  wat lig breek soos kristal  en breek tot lig versplinter  en swart word om sy val

(hennie aucamp – lirieke vir ‘trapsgewys’)

wat aucamp regkry met sy vlymskerp teks is om die teenstrydighede van emosies uit te lig en die meervoudige waardes van enkele konsepte vas te pen.  hy doen dit deur die ligsinnige, byna lawwe ritme en maat van die vers te kontrasteer met die donker inhoud daarvan.  die gemaklike gemeensaamheid van die teenstrydighede in die vers gee daaraan ‘n uitsonderlike aard met kenmerke van lig en donker.  net om ons daaraan te herinner dat wit en swart maar twee uiterstes op ‘n skaal van grys is en dat die relatiwiteit van persepsie die toonwaarde van dit wat waargeneem word, bepaal.  verander jou perspektief en sien iets nuuts.

die skoonheid van eerlikheid en eenvoud lê daarin dat dit nie regtig veel ruimte laat vir verkeerde interpretasie nie, en dat dit nie sommer die waarnemer kan mislei nie.  in die konsep van ‘wabi sabi’ vind die estetiese- en lewens-ideaal van ‘n bewustelike strewe na die erkenning van die essensie van objekte en aksies ‘n lêplek.  dit vra van die waarnemer ‘n aandagtigheid en bepeinsing in die alledaagse lewe wat, anders as modernisme wat gemik is op die uiting van idees en status in die openbare sfeer, primêr in die private domein uitdrukking vind.  ‘n voorbeel van hierdie tipe benadering is die man wat in sy spaarsamige dakwoonstel ‘n oorspronklike picasso in ‘n kas hou.  af en toe haal hy die werk uit en kyk met aandag daarna, voordat hy dit weer wegpak.

ontdaan van die opdringerige paranoia (het jy gesien en wat dink jy daarvan) van die modernisme is die herfs ook weer hier.  in stilte en sonder fanfare is die blare besig om te verkleur en die wind se vingers word koud.  hou fyn dop.  mag die stilte van herfs sy arms om jou siel vou.

om ‘n boom te plant is baie gewaagd – vir die planter en die boom.  veral vir die boom omdat dit aan soveel verwagtinge moet voldoen:  die planter wil hê die boom moet mooi lyk en vinnig groei en skaduwee maak;  die buurman wil hê die boom moet nie in sy swembad mors nie;  en die hondjie wil net so graag sy been gaan lig teen die stam.  en so gee ek vandag weer die iknow-boom water.  ek hoop jy vind êrens ‘n kolletjie skaduwee, dat die boom nie in jou swembad mors nie.  en dat die hondjie ‘n ander boom sal gaan soek.

hiermee dan hartlik welkom by ‘n blad wat dit het om idees.  hierdie idees is nie net myne nie (alhoewel die titel verwys na die nederlandse “ek”) en is nie net relevant tot die huidige nie (now).   an idea is salvation by imagination.   so meen frank lloyd wright.  met iknow – en ja, die titel is ‘n bietjie eiewys – sal daar so nou en dan ‘n blaaskans kom van die verveling van die dag;  waar jy saligheid kan vind in die vernuftigheid van ons eie en ander se verbeelding.  sodat jy ten minste oor die estetiese goed in die lewe waaroor jou tannie gertruida moontlik eers in 2015 opgewonde gaan raak, beterweterig sal kan antwoord:  iknow.