Archive

art

van gogh vs lichtenstein

roy lightenstein, trots met sy opgedateerde weergawe van vincent van gogh se oorspronklike kamer in arles, nooi laasgenoemde oor om die werk te bespreek.  vincent kyk.  en hy luister my sy goeie oor hoe lichtenstein uitwys dat die perspektief van die prent engtevrees oorkom het (die kamer word ‘n plek waar optimisme ‘n keuse sou kon wees);  die werksershemde op die hanger is vervang met ordentlike klere soos vir ‘n vername besigheidsman.  seker darem armani of iets wat ‘n respektabele mens in die openbaar sou betaam.  kyk, daar is moderne stoele, ben day-dots op die mure (die moet hy eers verduidelik, want vincent was op sy dag nie ‘n groot aanhanger van comic-strips nie) – sou dit plakpapier kon wees?  vincent is nou sienbaar gespanne.  en, hou lichtenstein moedig vol, let op die slim verwysings na die blok-drukke van die ekspressionisme as verwysing na die eertydse plankvloer.  vincent weet die vloer was van hout, maar hy het nou genoeg gehoor (dalk was hy net nie impressed nie), gryp ‘n byderhand mes en sny sy ander oor af om die gedreun  buite te hou.

vincent draai is sy graf om.

storm sequence by shaunce gladwell

dit is waarskynlik die teenstrydighede tussen dit wat gesien en dit wat gehoor word wat die werk “storm sequence” van shaun gladwell so fassinerend maak.  in hierdie film bevind ‘n skaatsplank-ryer (en die kyker, hom) op ‘n herkenbare openbare plek – in hiedie geval:  bondi beach, sydney – waar die kunstenaar op die rand van ‘n betonblok wat bo die see dryf, toertjies doen.  in die ‘normale’ verloop van omstandighede skaats die kunstenaar na hartelus senutergend na aan die afgrond, en sou sy bewegings in daardie konteks (soos dit maar met skaatsplanke is?) bruusk kon voorkom.  met die meegaande klankbaan van die eietydse komponis, kazumuchi grime, en die naderende reënstorm wat by die oomblik die kleur van die werk byna tasbaar bedreig, bly die skaatsplank-ryer onbewus besig met die hier en nou van elke stop, draai en gly van sy speelding.  hy hang soms vir ‘n oomblik gewigloos in die lug voordat hy (gevaarlik te na aan die afgrond) weer sy ritmiese partroonlose bewigspatroon hervat.  in hierdie werk word die kyker op ‘n oorspronlike manier gedwing om die normale te herevalueer en selfs te beinvloed:  die alledaagse spelerigheid van ‘n skaatsplank-ryer word uit konteks geneem met behulp van die vloeiende, eteriese klanke wat die bewegende beeld vergesel (‘n kalmte oorval die luisteraar) terwyl die kyker die storm sien naderkom, en die gevaar begin oorweeg van die noukeurige balans van 3 kubieke voet van been en bloed  wat klaarblyklik die noodlot tempteer.  en dit op ‘n skaatsplank van alle dinge.

gladwell in storm sequence

die werk is hoogs invloedryk in die opsig dat die kyker gekonfronteer word met beelde wat mekaar weerspreek (enersyds die speelsheid van skaats midde die dreigende naderkom van ‘n storm) en verder die luisteraar wat tot bedaring gestem word.  ‘n bietjie soos om na ‘n bach prelude te luister terwyl mens teen 130km per uur voortsnel op die (eertydse) ben schoeman – alles in ‘n poging om die onkeerbare te vermei, of dan minstens net momenteel in beheer te voel.

This slideshow requires JavaScript.

‘n onlangse tydelike installasie op botafogo beach in rio de janeiro – gemaak van herwonne plastiekbottels – is ‘n openbare beeldhouwerk  wat drie reuse visse versinnebeeld.  die beeldhouwerk is deel van ‘n bewusmakingsveldtog oor herwinning en hergebruik, maar dit is die by-skrif langs die werk wat opval as ‘n meer volhoubare gedagte. losweg vertaal kom dit neer op ‘herwin jou gesindheid’.

This slideshow requires JavaScript.

rooi, in die werk van anish kapoor, is ‘n medium meer as wat dit bloot kleur is.  dit word ‘n herinnering aan die weerloosheid van lewe en die impak van tyd op die ervaring van die hiermaals.  vir kapoor is dit baie eenvoudig:  rooi is vir hom voor-die-handliggend die kleur van die interieur van ons liggame.  dus word rooi ‘n soort binne-ste buite wat elkeen van ons herken op ‘n ander, dieper vlak as net die beeld waarmee ons gekonfronteer word.  dit is die internalisering van die objek ‘rooi’ en die persoonlike ervaring daarvan wat van die kleur so ‘n hoofdige emosionele ervaring maak.   hiermee saam verken kapoor telkens weer die verband tussen tyd en tydloosheid, altyd weer in rooi:  diepte en persepsie word bevraagteken en uitgedaag in ‘n kegel wat die wit vlak van ‘n soliede muur breek; die ongenaakbare beweging van gestolde rooi kers-was deur die welwing van opeenvolgende openinge word ‘n ysige herinnering aan volksmoord; wolke wat gly oor die gepoleerde rooi oppervalk van ‘n statisese metaalskyf reflekteer in die water van ‘n altydvloeide rivier.  immer die konstante verandering.

“when i first saw marsyas by anish kapoor at the opening of the exhibition in the turbine hall, the impact that it had upon me was a powerful one. my first impression was that i, as a living being, was standing before my own body and was dead – as in a time-warp perspective, at once in the future and the present.  suddenly, i found myself put into a position in which my life appeared in a different light.  and i was moved to ask myself just what i could still manage to accomplish in the time left to me.”  so beskryf arvo pärt sy interaksie met die werk van kapoor.  pärt se simfoniese weeklaag ‘lamentate’ wat uitgevoer is by die uitstalling van ‘marsayas’ is geskryf as ‘n jammerklag vir die lewendes wat op daaglikse basis gekonfronteer word met dood en verganklikheid.  dit oorleef die fisiese kunswerk in die sin dat dit elke dag nog gehoor kan word, anders as ‘marsayas’, waarvan nou net beelde oorbly as verwysing na die feit dat ‘n rooi pvc trompet wat 320m2 beslaan het, eens ‘n werklikheid was.

om die ware wese en onsekerhede van die siel op papier te konfronteer, moet ‘n kunstenaar eerlik wees.  en wanneer ryno eksteen van alle hemelse en aardse wensens die dag ‘n hond (van alle veelvoetighede) aanpak, moet jy weet:  hier kom ‘n ding.  want soos ons nie so geredelik in ag neem nie – hond is nie altyd mens se beste vriend nie.

gelukkig red ryno se onuitputbare sin vir humor hom:  “dis regtig te kompleks om uit te brei en ekself verstaan min daarvan en onsekerheid of misverstande is gevaarliker as melk verby koopdatum.

“toe ek weer sien staan ek met baie foto’s van flyer en maak aan myself die belofte om met eerlike merke op papier ‘n getroue weergawe van die hond te maak.”  so sê my vriend oor hierdie tekening van flyer, die labrador.  met potlood, houtskool en ‘n tipe grafiet-stafie as sy bondgenote vind ryno uit dat dit vir hom moontlik is om deur diep te delf in die binnekamers van die hart, hy die insig kan verskerp.  heel moontlik omdat die oog kan bedrieg; die oor kan filter, maar die hart selde leuens vertel.

daar is ‘n lewensgetroue fluweel-snoet; die onwillekeurige uit-hang tong en bestendige half-glimlag wat net aan ‘n opregte labrador kan behoort.  hierdie trekke van ‘n hond is die maklike stereotipes om uit te beeld.  maar dan vertel die kunstenaar van ‘n aandagtigheid in die oor en ‘n fokus in die kyk van die hond wat ‘n onderliggende bedreiging kan veronderstel.  en in die lyf word flyer byna mens met sy bonkige skouers.  op ‘n onderbewustelike vlak word die uitdrukking ‘om deur jou eie honde gebyt te word’ opgeroep.  in die erkenning van die uiterstes vorm daar egter ‘n akkuraatheid in die vaslê van die werklike aard van die dier wat ver verby blote natuur strek.  sonder om sentimenteel te wees, word die dualiteit van geaardheid veronderstel, eerder as verklaar.

die inspirasie om einde ten laaste ‘n hond vas te vang het vir ryno gekom na die paul emsley-uistalling wat hy by stellenbosch se  pas-afgelope woordfees bygewoon het.  emsley se omgang met mens, dier en plant laat voel die wêreld vir ryno na ‘n beter plek.  die onteenseglike meesterlikheid van emsley se ragfyn tegniek maak sy onderwerpe realisties en broos.  in ryno se prent is daar egter ‘n robuuste ondier wat skuil onder die pels:  daar is ‘n iets van bepaalde onpeilbaarheid.  van onnoembare moontlikhede, maar ook van die onwrikbare geloof dat daar dalk net blaf sal wees sonder byt.  dat die getrouheid van ‘n hond waarna so maklik verwys word ook in die mensdom sal seëvier, al wys ons soms vir mekaar tande.  dit kan net ‘n wyse man wees wat so dubbelsinnig maar sonder oordeel kan waarneem:  een met ‘n hart van goud; wat almal oorval met sy gulheid soos die reuk van wierook, en wat salf is vir die siel.

dit is nie ‘n hond nie.  dis ‘n paar swart lyne op ‘n ligte agtergrond.  ook is dit nie noodwendig  ‘mooi’ lyne nie.  tog, is dit niks anders as ‘n hond nie.  hierdie paar strepe van picasso gaan na die hart van wat wabi is:  daar is nie ‘n idealistiese idee oor die ‘mooiheid’ (aldan nie) van die (of enige ander) hond nie.  dit is bloot ‘n soort essensie wat uitgedruk word as ‘n relatiewe verwysing na ‘n gedagte.  in die sin van wabi sabi verwag picasso van ons om ons sensoriese waarneming self uit te brei, anders as wat ‘n foto van ‘n worshond van ons sou verwag het.  ons is vry om te kies:  is hierdie ‘hond’ vir ons mooi of lelik, blaf hy onophoudelik as hy nie aandag kry nie; is sy gehoorsaam;  voel mens die rugstring as hy oor die hond streel…

die essensie van ‘hond’ is al waarmee ons aanvanklik gekonfronteer is, en dit is al wat sal oorbly as ons kan terugkeer na die blote paar lyne van picasso se kunswerk.  maar erken dit nou maar:  jy het al klaar vir die hondjie ‘n naam gegee.

klik op die foto om die video te sien

lank voordat die strykstok en die instrument vir die eerste keer ontmoet, laat sy hande die hout reeds sing.  daar is ‘n bepaalde sekerheid in die bewegings van die luitmaker as hy die hout vorm.  dit kom van die gelykmatigheid van bewussyn en ‘n konneksie met die werk wat meer is as bloot die uitvoer van ‘n taak.  “ek vind handewerk ‘n brug tussen die werklikheid en die self”.

nou en dan kry ons almal te doen met een van daardie rare mense wat dit regkry om kreatief te lewe sonder die eksentrieke self-bewustheid waarmee kunstenaars hulself en die samelewing in baie gevalle vermoei.  ek raai dat die feit dat peter pots juis dit regkry, te doen het met die uitleef van ‘n vrywillige eenvoud soos in zen.  hy handhaaf ‘n balans tussen ‘n hele reeks aktiwiteite:  as hy nie besig is met boerdery nie (hy is tans besig om ‘n nuwe appelkultivar te kweek), spandeer hy tyd saam met sy familie, maak tuin, bou huis, versorg die perde en varke, en natuurlik kry die kat ook aandag.

wanneer hy egter die handgereedskap nader trek om ‘n tjello te maak, verskerp die sinne tot ‘n naaldepunt van konsentrasie.  daar word gewerk met ‘n aanvanklike idee van wat hy met ‘n instrument wil bereik, en oor ‘n tydperk van drie maande mag hy nie twyfel aan die uitvoer van daardie idee nie:  “die tjello wat ek besig is om te bou in die video het ek heeltemal self ontwerp. ek het die belangrikste afmetings streng gerespekteer, byvoorbeeld die snaarlengte, totale lengte van die instrument, die lengte en dikte van die hals ensomeer. by die breedte van die instrument het ek probeer om die grens te soek van die breedste moontlik wat nog gemaklik bespeelbaar is. dit het my ‘n klank gegee wat baie ryk is in die lae register – iets wat baie gewild is in tjellos.”

net ‘n uitnemende waarnemer en onvergelykbare vakman sal dit regkry om die wetenskap van klank en die ergonomie van lyf te kan vorm tot ‘n unieke instrument.  die proses en die idee begin reeds by die keuse van die hout.  hy het die rooiden in die alpe gaan haal, waar hy die boom self uitgesoek het.  die esdoringplanke kom uit bosnië en dit gaan haal hy by ‘n handelaar op die grens tussen oostenryk, italie en slovenië.  eg aan sy natuur word slegs handgereedskap ingespan vir die maak van ‘n tjello:  “die hande het baie senuwee-eindpunte en is dus goed verbind met die brein. hulle is daarom buitengewooon geskik om die brein in die teenwoordigheid te hou, veral as hulle ‘n nuwe handwerk moet leer. ek stel ‘n nuwe vorm van meditasie voor wat moeilik dog effektief is.”

my vermoede is dat hierdie klein meditasies al van jongs af in sy grein lê.  en dat dit ‘n leeftyd se werk is om die tegniek te vervolmaak.  bach en brahms help hom intussen om stil te word, as as die stilte kwel, luister hy na karen zoid, spearhead en red hot chilli peppers.  maar die konneksie tussen die brein en die hande bly altyd versterk.

as jy jou op ‘n stadium in die provinsie van parma in italië bevind, word ‘n oomblik stil.  dalk is jy gelukkig genoeg om peter ‘n tjello te hoor stem.  en praat maar afrikaans as jy hom dalk in persoon raakloop.    

in 1984 sterf fred page op ouderdom 76.  en eers in 2011 kry suid-afrika vir die eerste keer ‘n kykie in die wêreld van hierdie onbekende kunstenaar van port elizabeth.  die publikasie ‘ringmaster of the imagination’ deur cecil kerbel en jeanne wright poog om ‘n bewustheid van die kunstenaar onder die breër kuns-publiek te vestig en is ‘n visueel stimulerende werk met vele voorbeelde van page se vreemde gebruik van lig- en donker vlakke.  page werk baie met skakerings van grys, wat aan sy werk ‘n maanlig-agtige aard gee.  iets soos ‘n swart-en-wit-droom met vreemde insekte, diere en ander figure afgebeeld in central, ‘n bekende area in port elizabeth waar page gewoon het tot sy dood.  fred page se werk is uniek omdat hy hoofsaaklik on-onderrig was en dus nie beinvloed is deur ander kunstenaars en style van sy tyd nie.  en daarin lê die trefkrag.

\anna-lynne se lag, as jy gelukkig genoeg is om dit dalk eendag te hoor, sal jy agterna tussen ‘n duisend ander uitken.  die aard daarvan is misterieus.  dit ontwyk mens net soos die moontlikhede in die drie-ledige werk ‘trichotomy’ – ‘n finalis in die 2011 sasol new signatures kompetisie.

This slideshow requires JavaScript.

die waarnemer se eie innerlike dramas word op dieselfde vlak aangespreek as die vele moontlikhede in die werk self.  alhoewel die subjek – ‘n onpeilbare, dog al te herkenbare kreatuur – vanuit drie perspektiewe aan die waarnemer uitgelewer word, is dit die uitkykpunt van die waarnemer wat die werk se waarde kleur:  die fisiese posisie van die subjek  kan tegelykertyd as onderdanig of uitdagend ervaar word.  die byna tasbare stilte op die doek veronderstel dat die kreatuur gereed is om aan te val, of moontlik dat dit weerloos in ‘n hoek skuil.  dit is egter vanuit geen hoek moontlik om die onmiskenbare trekkrag van die kreatuur se blik weg te wens nie.

“ek moet stories vertel,” sê anna-lynne.  en ‘n storie-verteller van formaat is sy beslis.  haar prent-stories betrek mens willens en wetens by die intriges van die self en die ander, en voor jy weet is jy ingesluk deur ‘n grootsheid waar die som van die dele onverklaarbaar meer is as die geheel.