die dubbelsinnigheid van ‘mens se beste vriend’

om die ware wese en onsekerhede van die siel op papier te konfronteer, moet ‘n kunstenaar eerlik wees.  en wanneer ryno eksteen van alle hemelse en aardse wensens die dag ‘n hond (van alle veelvoetighede) aanpak, moet jy weet:  hier kom ‘n ding.  want soos ons nie so geredelik in ag neem nie – hond is nie altyd mens se beste vriend nie.

gelukkig red ryno se onuitputbare sin vir humor hom:  “dis regtig te kompleks om uit te brei en ekself verstaan min daarvan en onsekerheid of misverstande is gevaarliker as melk verby koopdatum.

“toe ek weer sien staan ek met baie foto’s van flyer en maak aan myself die belofte om met eerlike merke op papier ‘n getroue weergawe van die hond te maak.”  so sê my vriend oor hierdie tekening van flyer, die labrador.  met potlood, houtskool en ‘n tipe grafiet-stafie as sy bondgenote vind ryno uit dat dit vir hom moontlik is om deur diep te delf in die binnekamers van die hart, hy die insig kan verskerp.  heel moontlik omdat die oog kan bedrieg; die oor kan filter, maar die hart selde leuens vertel.

daar is ‘n lewensgetroue fluweel-snoet; die onwillekeurige uit-hang tong en bestendige half-glimlag wat net aan ‘n opregte labrador kan behoort.  hierdie trekke van ‘n hond is die maklike stereotipes om uit te beeld.  maar dan vertel die kunstenaar van ‘n aandagtigheid in die oor en ‘n fokus in die kyk van die hond wat ‘n onderliggende bedreiging kan veronderstel.  en in die lyf word flyer byna mens met sy bonkige skouers.  op ‘n onderbewustelike vlak word die uitdrukking ‘om deur jou eie honde gebyt te word’ opgeroep.  in die erkenning van die uiterstes vorm daar egter ‘n akkuraatheid in die vaslê van die werklike aard van die dier wat ver verby blote natuur strek.  sonder om sentimenteel te wees, word die dualiteit van geaardheid veronderstel, eerder as verklaar.

die inspirasie om einde ten laaste ‘n hond vas te vang het vir ryno gekom na die paul emsley-uistalling wat hy by stellenbosch se  pas-afgelope woordfees bygewoon het.  emsley se omgang met mens, dier en plant laat voel die wêreld vir ryno na ‘n beter plek.  die onteenseglike meesterlikheid van emsley se ragfyn tegniek maak sy onderwerpe realisties en broos.  in ryno se prent is daar egter ‘n robuuste ondier wat skuil onder die pels:  daar is ‘n iets van bepaalde onpeilbaarheid.  van onnoembare moontlikhede, maar ook van die onwrikbare geloof dat daar dalk net blaf sal wees sonder byt.  dat die getrouheid van ‘n hond waarna so maklik verwys word ook in die mensdom sal seëvier, al wys ons soms vir mekaar tande.  dit kan net ‘n wyse man wees wat so dubbelsinnig maar sonder oordeel kan waarneem:  een met ‘n hart van goud; wat almal oorval met sy gulheid soos die reuk van wierook, en wat salf is vir die siel.

Leave a comment