hoofsaaklik oor die hondjie…

so met die intrapslag sleep ek graag een van die onnutsige geeste van Afrikaans, hennie aucamp, nader vir hierdie uitgawe van iknow:

teerheid is ‘n vlinder  I ‘n papillon d’amour:  vervlietend nes ‘n blomgeur  ontwykend soos toujours

jou hartsog is robyne –  I  ‘n vuur gevang in glas:  dit smeul nes ou ballades  soos kole onder as

jou wreedheid is ‘n springmes  geslepe en presies  ontwerp na jou behoeftes  verseker teen verlies

jou kilheid is ‘n yspriem  wat lig breek soos kristal  en breek tot lig versplinter  en swart word om sy val

(hennie aucamp – lirieke vir ‘trapsgewys’)

wat aucamp regkry met sy vlymskerp teks is om die teenstrydighede van emosies uit te lig en die meervoudige waardes van enkele konsepte vas te pen.  hy doen dit deur die ligsinnige, byna lawwe ritme en maat van die vers te kontrasteer met die donker inhoud daarvan.  die gemaklike gemeensaamheid van die teenstrydighede in die vers gee daaraan ‘n uitsonderlike aard met kenmerke van lig en donker.  net om ons daaraan te herinner dat wit en swart maar twee uiterstes op ‘n skaal van grys is en dat die relatiwiteit van persepsie die toonwaarde van dit wat waargeneem word, bepaal.  verander jou perspektief en sien iets nuuts.

Leave a comment