the dog – pablo picasso

dit is nie ‘n hond nie.  dis ‘n paar swart lyne op ‘n ligte agtergrond.  ook is dit nie noodwendig  ‘mooi’ lyne nie.  tog, is dit niks anders as ‘n hond nie.  hierdie paar strepe van picasso gaan na die hart van wat wabi is:  daar is nie ‘n idealistiese idee oor die ‘mooiheid’ (aldan nie) van die (of enige ander) hond nie.  dit is bloot ‘n soort essensie wat uitgedruk word as ‘n relatiewe verwysing na ‘n gedagte.  in die sin van wabi sabi verwag picasso van ons om ons sensoriese waarneming self uit te brei, anders as wat ‘n foto van ‘n worshond van ons sou verwag het.  ons is vry om te kies:  is hierdie ‘hond’ vir ons mooi of lelik, blaf hy onophoudelik as hy nie aandag kry nie; is sy gehoorsaam;  voel mens die rugstring as hy oor die hond streel…

die essensie van ‘hond’ is al waarmee ons aanvanklik gekonfronteer is, en dit is al wat sal oorbly as ons kan terugkeer na die blote paar lyne van picasso se kunswerk.  maar erken dit nou maar:  jy het al klaar vir die hondjie ‘n naam gegee.

Leave a comment