wabi sabi

die skoonheid van eerlikheid en eenvoud lê daarin dat dit nie regtig veel ruimte laat vir verkeerde interpretasie nie, en dat dit nie sommer die waarnemer kan mislei nie.  in die konsep van ‘wabi sabi’ vind die estetiese- en lewens-ideaal van ‘n bewustelike strewe na die erkenning van die essensie van objekte en aksies ‘n lêplek.  dit vra van die waarnemer ‘n aandagtigheid en bepeinsing in die alledaagse lewe wat, anders as modernisme wat gemik is op die uiting van idees en status in die openbare sfeer, primêr in die private domein uitdrukking vind.  ‘n voorbeel van hierdie tipe benadering is die man wat in sy spaarsamige dakwoonstel ‘n oorspronklike picasso in ‘n kas hou.  af en toe haal hy die werk uit en kyk met aandag daarna, voordat hy dit weer wegpak.

ontdaan van die opdringerige paranoia (het jy gesien en wat dink jy daarvan) van die modernisme is die herfs ook weer hier.  in stilte en sonder fanfare is die blare besig om te verkleur en die wind se vingers word koud.  hou fyn dop.  mag die stilte van herfs sy arms om jou siel vou.

Leave a comment